#Lovemyselfie wys tans op DSTV Box Office.
Toe die plaaslike televisiester, Adele Swan, besef dat haar verloofde al haar spaargeld verkwansel het en by 'n Gen Z-beïnvloeder slaap, weet sy dat die tyd ryp is om te wys wat nog in haar steek!
Adele het geen ander keuse as om die vertoning van haar lewe te lewer om aan almal te bewys dat sy steeds relevant is nie.
’n Betroubare kunstebeskermheer en eiendomsmagnaat, George, bied aan haar ’n geleentheid om haar skuld te delg mits sy instem om die gesig van sy veldtog te word: ’n kompetisie op ’n luukse plesiervaart om die eksklusiewe eenhede van die Silwer Eike-Aftreelandgoed te verkoop.
Dit is ’n groot slag vir Adele se ego toe sy agterkom dat sy aan die Survivor for Seniors-kompetisie aan boord sal moet deelneem. Dis egter ’n verrassing toe sy in dieselfde span is as, Winnifred, ’n ou skoolvriendin wat weer die deure na Adele se langvergete verlede open.
Met hierdie herinneringe begin Adele se selfvertwyfeling die oorhand kry. Die druk op haar om meer aftree-eenhede te verkoop word groter en George raak toenemend onredelik. Adele probeer hard om haar gevoelens te onderdruk en sy moet selfs haar beginsels prysgee om tred te hou by die optrede van die kompetisie-ambassadeur.
George se reputasie is nie wat hy voorgee dit is nie en toe Adele se nuutgevonde vriende sy gevaarlike verlede ontdek, kan sy haar nie meer van haar spanmaats isoleer nie. Hulle het ook ’n kompetisie om te wen! Ten einde George te onttroon, sal Adele daadwerklik iets moet doen en vir haar vriende in die bresse moet tree.
Dit is dus veel meer as ’n langverwagte plesiervaartvakansie. Vier vroue wat ouer as 60 is, onderneem ’n reis na binne en ontdek dat dit nooit te laat is om te ontwikkel en selfs te verander nie.